Steve on Facebook
 Steve is now officially on FB! Click on the image to be taken to his page.
Steve on Twitter
Basic authentication is not supported
Bulembu Lodge - Mozambique
|
|
Sopas uit NZ. Sal ek immigreer? |
|
|
|
|
Tuesday, 25 May 2010 11:16 |
|
As die weer anders was, was NZ en OZ seker baie dieselfde. Die paar verskille is egter groot verskille.
   Hier in NZ is daar vulkaniese berge en reën dit graag. Dit is nog nie koud nie, maar dis grou en nat. Het jy al Christchurch op TV gesien? Ons ook nie. Die Bokke sien ook nie die bal daar nie. Dis die mis en die reen, seg almal. “Sielkundig het dit soms ‘n negatiewe uitwerking op die Boere”, vertel ons gasheer, Fritz, wat al ‘n dekade hier bly. Maar vir baie toeriste sal New Zealand gesien word as mooier. Dis meer tropies, die see is nooit vêr nie en jy kan ‘n klein Toyota onder een enkele varingblaar intrek. En natuurlik is Lord Of The Rings hier gemaak en jy verwag dat Gollum sommer uit die donkergroen gestap sal kom met ‘n voorsssstel of twee teen die gryssss. Ek ontmoet vir Fritz, Thys, Martin, Francois. En om een of ander rede trek die weer oop vir vier dae aan mekaar en ons ondervind die heerlikste warm winter in Auckland (onder links).    Ons word ge-escort na Torbay, Long Bay en Browns Bay (2de foto bo). Hier herken Suid Afrikaners jou sommer op straat so baie is hulle. Ons deel grepies uit ons gemene kontinent. (My pienk broek in die foto’s is my klein interkontinentale bydrae aan baba Marzanne Kruger. Sodat jy weet, ek het nie vergeet nie. Daar’s ook ‘n klein berig oor Malema wat aan Zuma moet apolgie vra. My vraag: wat van verskoning vir die Afrikaner wie hy met die dood gedreig het?) Auckland se konsert is reeds uitverkoop. Daarom open ons ene vir Sondag ook. Saterdag drom die Suid Afrikaners vroeg reeds in toue saam by die voordeur (onder links). Ek gaan gesels buite. Sien weer vir Jan en Maureen. Meer as agthonderd mense daag die aand op. Dewald en sy groep open vir my. Dankie julle! Sold out, seg die poster. Binne hierdie SA "kaffee's" (onder regs) werk almal soos slawe. Vergeet om vir Liesbet te roep. Min plek vir luigatte hier.
    Ek love nog altyd hierdie stad tussen die seë en eilande, met sy skoon parke, vulkane en bergpieke met sneeu. Frits vertel ons meer. In NZ kry jy jou leerlinglisensie op vyftien en die ou in die teengestelde laan, wat wag vir jou as jy ook wil links draai, het eintlik voorrang. Vreemde reël. Ek skop my enkels amper reg deur die dashboard elke keer as ons voor iemand regs indraai. Ek slaan na dat die Maori woord vir Blou en Bul dieselfde woord is: puru. Ek sou die aanname maak dat puru puru beteken Bloubul. Dit kom van die Maleisiese stamwoord "poer" wat om sy beurt afstam van die Afrikaanse "poer in jou moer!" (hiehie)
Rotorua die skoonste NZ binnelandse dorpie, vang my onkant. Drie mere, een massiewe woud, ‘n half-die-moer-in vulkaan en stoom wat oral deur die gras, modder en grond borrel (2de pic bo). ""This is not an active vulcano," vertel die tannie. Whatever, dink het. Plaaslike oproepe is gratis. Ons ry deur 'n dorp waar ek eers moet stop. Sy naam is BULLS. Ek sweer. En alles in Bulls is Bulls georiënteer , soos die fotos wys. Die polisiestasie is bvoorbeeld "consta-bull", en die kerk is "forgive-a-bull" ens. Kyk onder.    Ek ontmoet die mooiste mense by die konsert. En dis min of meer hier by Agter Elke Man rond, dat mense trane begin afvee. Dan by Liefling en Pampoen. Al haat jy Suid Afrika, bly sy nostalge gange oop en seker effe leeg as jy ver bly. Die ontvangs was oral goed. Soms groot, soms klein, maar altyd waardeer deur ekspats en Kiwi's gelyk. In Rotorua was alle vlugte weens mis gestrand en moes ons ‘n kar huur deur die eiland. Ons kry 'n Ford.    Ons stop twee ure later in Mokau, êrens tee ‘n die weskus af. Drink Peachees, gemmerbier en Whitebait (klein wit vissies so groot soos haarnaalde, met ogies wat vir jou loer. Kliek op middel foto bo.) New Plymouth en Palmerston North lyk baie dieselfde as laas, met meer Suid Afrikaners as ooit. Die spektrum Afrikaner-sentiment word ook hier verteenwoordig. Verlange, indifference, kwaad, moerig, bitter seer. Napier (onder) en omgewing is baie soos die Paarl.
   Behalwe dat dit die Art Deco hoofstad van die wereld is, is daar wingerde, berge en Amelia (en Pierre) wat brei soos Swartlanders. Ek voel sommer tuis. Ek ontmoet Joan (bo regs), 'n wereldreisiger met belange in Amerika, Suid Afrika en New Zealand. Hier smile ek, Amelia en Joan in 'n heerlike ontbyt-shoppe in Napier.
 Ons land in Wellington in gure weer en erge wind. Ek wonder wat maak ons daar. Tot die konsert daardie aand. Al doen ons dan net die groot stede, sal Wellington beslis ingereken moet word. Waar kom soveel Afrikaners verdaan, vra ek. "Uit die Kaap!" skree meeste van hulle. Wellington is dan ook die meeste soos Kaapstad van al die stede in NZ. Hier word ek om middernag op straat herken deur goed gepaartiede jong Afrikaner seuns en girls. Ek dink hulle dink hulle sien 'n spook. Ons kuier lekker.
Ek en Julius verlaat die Noord Eiland vir die Suid Eiland, en Christchurch. Dat ek nou daar moes wees terwyl die Bloubulle regmaak om teen die Crusaders te speel op SOWETO. Eisj. Die konsert verloop goed en daar is honderde meer Suid Afrikaners as vyf jaar gelede. Iemand vra of dit veilig is om terug te kom. Hulle wil. Wat sou jy antwoord?
   Ek kry ‘n Crusaders trui as geskenk. Maar die Bulle gaffel hulle. Ons bly wakker, doen brannas (wat baie skaars is in NZ) en sien die Bulle en Stormers deur na oorwinning. Baie trots op my manne! Christchurch verras my heeltemal. ‘n Groot gehoor, en ‘n limo by die lughawe. Popstar stuff! Dankie Werner en Jeanine. Op die lughawe vra ek vir ‘n croissant. Die Engelse hier sê nie die “h” nie. “Would you like me to ‘eat it for you”, seg die mooi Maorie meisie. Internasionale insident, dink ek. Ek koop die broodjie en sy eet dit!!! Not a hell!
 Die vlug terug is lank maar beter as die vlug in. Ek kyk George Clooney se Up In The Air en begin lees aan rebelfilosoof Christopher Hitchens se outobiografie (en ook Waitangi&Indigenous Rights. Ek voltooi Albert Luthuli se Let My people Go). Ek maak notas om oor te vertel dat die droom van ‘n leefbare Suid Afrika my voornemens sal dryf. Ek het dit gesien. Dis mooi. Sal ek emigreer. Dankie dat jy vra. Maar dis te laat vir my. Ek het reeds belowe dat ek sal bly. Iemand moet die ligte afskakel. Steve x |
|
|
Hallo uit Australië. Pak jy al? |
|
|
|
|
Monday, 10 May 2010 15:43 |
|
Hallo almal, uit Australie. Sopas uit SA verneem dat Duisend En Een goue status bereik het. En dis nog nie in al die winkels tuis nie. Dankie!! Ook vir die wonderlike komplimente op Facebook daaroor.
  Ses jaar gelede was ek nie heeltemal seker hoekom mense sou wou emigreer nie. Vandag, na vier dae in Brisbane, weet ek nie hoekom mense nie dadelik emigreer nie. Pretoria by the Sea, noem hulle dit, vir die lekker weer, die Afrikaans, die rugby en die Jakarandas wat hier ook bont staan. Daar’s darem ‘n see, ‘n Boere slaghuis, baie Afrikaanses en die mooiste golfbane ooit. Die sypaadjies is skoon en ‘n totale afwesigheid van heinings en voetgangers laat mens effe paranoïes rondloer. Maar dis net ekke.
  Ons eerste konsert het reeds 800 kaartjies verkoop voor ons aankoms. En dit met so min as twee maande se waarskuwing. Afrikaners het nege ure gery uit New South Wales en ander het gevlieg uit Sidney. Die aand self was fantasties. Die afterpaartie ook: in daardie suave Absolut Vodka daktuinklubs onder die sterre (in Brisbane self, foto's bo). Die uitsmyters daar is kleiner/korter as ek maar almal vriendelik en deel van die gekuier. Brandewyn is vreeslik skaars, koffie is “’n Flat White, mate” (klink soos 'n Pretoriaanse voetganger) en Marmite is Vegemite (onthou jy die lied “do you come from a land down under?”)
 Die hele Suid Afrika sal pas in hierdie mees oostelike provinsie van Australie, waar die Bulle en Bokke nooit wen nie! Kwantitatief. Geografies. Niks anders vergelyk nie. Die wil om belasting te betaal demonstreer hom in die opbrengste – jy weet jy kry dit terug, hetsy in gesondheidsdienste, infrastruktuur of munisipale doeltreffendheid. Hier heers die lewe omdat jy nooit tyd mors met te veel politiekery en onsekerheid of onveiligheid nie. Selfs geringe motorongelukke maak voorbladnuus. Die ongekende vriendelikheid vang my steeds onkant. Hier is 'n foto (links) van 'n publieke braai langs die strand. Daar is gas in en jy druk slegs die rooi knoppie en siedaar: braai! Gratis. Die publiek hou dit skoon. Don't try at home... Meer as 100 Afrikaner families plaas hul kinders se opvoeding in die hande van Pastor Willy by Christian Outreach College; ‘n skool waar 17 van die 25 rugbyspelers Afrikaans is en meer as die helfte van die onnies Suid Afrikaans is. Hy reken as nog Suid Afrikaners aansluit, hy hul rugbyveld na LOFTUS sal herdoop.
  
Ek dog die Great Outback met ‘n Steve Irwin woestyn lê tussen Brisbane en Darwin. Maar om daar te kom moet jy eers oor die berge deur wouddorpies wat lyk soos iets tussen Knysna en Pilgrimsrus. Ons bly oor by David, Ann en Angelique (voorheen van Rustenburg, foto onder) in Tanglewood Gardens in Mapleton. Hier braai ons onder die sterre, met elke voormalige Suid Afrikaner wat sy eie storie kom vertel, ‘n ervaring wat wissel tussen totale bevryding en pure haat. En later, ná die Malvapoeding, seer nostalgie en bietjies heimwee. Dan Pampoen.
Hier is een  Boer wat miskien net TE veel verlang (nommerplaat heel links). Nie almal se redes vir emigreer is ewe lekker om aan te hoor nie. Ek sal hieroor NOOIT voorskryf nie.
Dankie veral vir die Afrikaanse Klub, Brisbane, Arno, Ben, Rialette en julle wonderlike families.
More vlieg ons NZ toe. Steve ps. Hier onder is 'n foto van OR Tambo lughawe nadat Julius Malema president word.
 * Bookmark these four sites to keep in touch with Steve’s everyday doings - Dit is nou moontlik om op vier verskillende plekke deel te word van Steve Hofmeyr se dag tot dag dinge. Boekmerk die volgende kuierplekke en bly op hoogte met sy wêreld, sy CD’s,sy opinies en sy konserte.
1. Steve se DIS HOE Dosis op Jakaranda 2. Sy nuwe Facebook kring 3. Sy alomberugte webblad (jy's op die regte plek) 4. En Twitter (vir daaglikse op die minuut inskrywings) |
|
Wednesday, 05 May 2010 19:46 |
|
Mnr. Hofmeyr Ons is moeg om die morele bankrotskap van u, sportsterre en presidente te volg in die media. Duidelik verskil ons definisie van God se wil hemelsbreed. Ons moet praat. Ds. A.Venter
Ds. Venter. Jy is reg. Ons verskil hemelsbreed. Jy wil praat oor sonde ek wil praat oor misdaad Jy wil praat oor seks en ekse ek wil praat oor die liefde vir twee vroue Jy wil praat oor die grense van liefde ek staan verstom oor die omvang daarvan
jy wil praat oor die Weg van Liefde ek wil iets sê oor liefde wat weg is
jy wil praat oor buite-egtelike kinders asof daar iets buiten egte kinders is
en terwyl jy trots mag wees op joune eis jy ‘n verskoning vir myne
Jy wil hê ander moet ‘n voorbeeld vir jou kinders wees ek wil hê jy moet ‘n voorbeeld vir jou eie kinders wees maar jou morele riglyn is priesters, presidente en bekendes myne is gewone mense wat die onmenslike trotseer Jou ideale leier is – iemand soos jy ek vra vir die soewereiniteit van ruimhartiges Jou armoede lê in jou gespog oor wat jy het my rykdom is die kennis van wat ek kort Jy wil praat oor ander se gapende voordeur ek wil praat oor jou oop agterdeur Jy wil praat oor rokjagters asof die idee van vroue met keuses ‘n taboe is Jy wil raai oor reg en verkeerd in ‘n ideale wêreld ek wil praat oor regmaak in die regte wêreld Jy wil praat oor moraliteit en gode ek wil praat oor die etiek van die sterfling Jy wil praat met die swaar vuis van oordeel ek wil luister na die beurtsang van die brose Jy gebruik jou vingers om ons uit te wys myne bly in ‘n vuis oor my hart geklem Jy volg media spasie oor bekendes se feilbaarheid ek baklei vir die spasie om mens te wees jy geniet pynlike publieke kruisigings ek veg in die doodloopstraat van privaat seer Jy wil hê ek moet soveel moontlik soos jy wees terwyl daar soveel opinies is as wat daar mense is Wat ek wegsteek word miskien hier gewys maar wat jy hier wys sou ek wegsteek Jy wil spekuleer oor ‘n morele moondheid ek wil sterf voor die spektrum van moontlikhede Jy wil praat oor mense wat god word ek wil praat oor God wat Mens word en bloei Jy is reg. Ons verskil. Hemelsbreed. Steve Hofmeyr |
|
|
|
|
<< Start < Prev 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 Next > End >>
|
|
Page 4 of 24 |
|