Steve on Twitter
Following:
Loading...
B&H Photo Video PC Audio
|
|
Geseende Kersfees (en onthou Simon van Sirene was 'n Afrikaan) |
|
|
|
|
Wednesday, 09 December 2009 14:37 |
|
Ek is ‘n boorling van ‘n stam uit Afrika. Wat ons eerste bind is nie die grond of die kontinent, soos op ander plekke nie. My wese hier voldoen aan die kernkwalifikasie van Afrika bestaan: dat sy mense êrens en om die beurt ly. Lyding kerf, vinniger as enige ander beitel, karakter uit mense. Ons verbond aan die Afrika landskap lê dieper oor ons geestelike verbintenis daaraan, omdat ons daarvoor gely het, skryf Professor Es’kia Mphahlele. Hy weet dat die oplees van ons kontinent se geskiedenis jou met veel minder laat as woorde. Ons monumente het teen ons arms afgeloop in ons grond in. Kolonisasie, konsentrasiekampe, rebellies en eie strydlustigheid. Ons is Afrikane omdat ons harte so gou leeg loop aan bloed. Ander plant bome en skryf vredesverdrae soos ons wonde opdoen. Ons s’n is die seer kontinent. Die weeskind wat ‘n Big Mac t-hemp steel om sy skaamte mee te tulband. Ander manipuleer gene en hou epidemie op ‘n afstand met wetenskap en kollektiewe ervaring. Ons maak vrede met die vlieë in ons binneoog en hoes mekaar saggies dood. Ons wag al eeue dat iemand hier sal verby vaar, terwyl hulle lankal reeds ver en dankbaar oor ons koppe vlieg. Ander tel die gesigte op mars terwyl ons nooit meer is as ‘n swart vlek op hierdie derde planeet van die son nie. Ons deel steeds die gemeenskaplike skande dat niemand nog ooit na ons opgekyk het nie.
Behalwe Christus. By die vyfde stasie van die dolorosa het hy na my opgekyk. Ek het Sy geestelike leed nie kon begryp nie, maar kon Sy lyflike las verlig. Hy, pakdier van my sonde. Ek, lyer van Sy bergrede. Ek kon hardloop vir my lewe toe die Romeinse soldaat my uitvinger. Maar ek kom van Afrika. En wat ons doen aan een van die geringstes van ons broeders, het ek aan U gedoen. Ek vra my seuns om my te laat gaan en buig onder sy kruis in. Vir Hom. Nie vir Westerse vermaak nie. Nie vir swart akteurs wat my sou speel in Hollywood flieks en Negroteater nie. Nie vir Pouslike sintifikasie of Deens fresco’s nie. Nie vir gekaapte ideologie nie. Maar omdat ander se leiding myne geword het. Ek is ‘n Afrikaan. Ek kan die ding dra, my God. Ek hét al vir die Berbers, die Turke, die Grieke, die Romeine, die Italianers, die Engelse, die Franse, die Belge, die Duitsers en die Mohammedane. Die stamme in Sirene vertel stories van ‘n beleërde land. Ek neem U juk nou op soos my erfgrond gedoen het met ander. Soos U gedoen het vir my. Ek doen dit want my seuns en dogters moet hierdie erfenis sien en verstaan. Ons wat die las deel... Hy kyk vir ons. En ons hou ons oog op die Lam.
Geseende Kersfees almal. Steve
|
|