|
Lyk my dis Rasta maand in Suid Afrika... Ek sweer, hierdie ou Rasta staan in Mosambiek en sing Steve Hofmeyr liedjies. Ek was daar en dog ek staan by 'n KKNK karaoke. Louise de Lange stuur hierdie foto met die woorde: Alhoewel die huisie se naam de la rey is speel hy net Steve se musiek. My ma het die foto geneem, en se dat sy woorde was “That mr Steve I love him”. Groete, Louisa de Lange. Stuur maar groete as julle daar verby ry en gee die man 'n bier. Miskien kan ons hom kry om die Volkslied te sing? * Jip, die outjie hier onder is nie 'n see-nimf van die Faiakes nie (en ook nie 'n Grace Kelly nie!). Ek het nie Ras Dumisani se verskoning gehoor nie, maar dit klink of hy sy tragiese weergawe van die Suid Afrikaanse volkslied op die toerusting blameer.
 Goed, sportgeleenthede is nie gepantser vir konserte nie. Omdat ek dit al so baie gedoen het vra ek sommer uit die staanspoor om te mime. Die kere wat ek lewend sing, gebeur die volgende. En ek staan nie stil voor een enkele luidspreker soos Rasta Ras nie. Probleem #1: Sodra jy wegbeweeg, is jy in die arms van Doppler&Drag, omdat jy stadion luidsprekers volg wat letterlik honderde meters van jou asook van mekaar is. Probleem #2: Jy val soms in saam die publiek, en nie anders om nie. Jy en hulle is as gevolg van die afstand reeds 'n paar sekondes agter die klankbaan. Hierdie probleem geld selfs al mime jy. Dit is hoekom die kyker gereeld die swak lip-sinkronisasie waarneem. Maar dit gebeur veral as jy "live" ook sing. My advies: 1. Kry 'n pro wat nie maklik deur tegniese gremlins gegooi word nie. Die Snyman/Balabroers kombinasie was treffend. Onthou, klank, effekte, ens is bybehore. Jy moet kan sing daarsonder, as jy nie 'n amateur is nie, en al hang die vlag onderstebo. 2. Mime. Rerig. Hulle gaan nie rugbywedstryde gebruik om jou harde werk op 'n CD te dupliseer nie. Jy SAL tos klink. 3. Gebruik 'n ordentlike klankbaan. 4. Kry die regte sleutel vir die sanger. Arme Ras het die harmonie deur sy poepel geforseer soos 'n NASA vuurpyl. 5. Kry 'n ordentlike volkslied. Ons s'n is 'n neurotiese, politiese sameflansing - in musikale terme, 'n nagmerrie vir enige sanger. Sny die tweede vers en behou die 1ste, 3de en 4de as dit moet. (nee, daar sal seker nooit konsensus wees oor 'n nuwe lied nie. Ek verkies die oue, maar het begrip daarvoor dat dit ideologies eksklusief is. Dis jammer, want dis die mooiste, eerlikste lied wat nog ooit oor hierdie land geskryf is.) * (My selfoon en inbokse kraak onder die Joost, Steve en Jurie grappies. Jip, ek kry hulle ook. Hier's ene.) Seuntjies is geskape met sleuteltjies. Meisies is geskape met slotjies. Net 1 sleuteltjie word gemaak vir elke slotjie, maar party bliksempies, soos Joost en Steve het ‘n lopertjie gekry. Eisj. *
Na die vertoning by die Voortrekkermonument bel radiostasies om te vra wat "Mr. Hofman" nou weer kwytgeraak het. Maar ek is nie lus om te praat nie. As jy daar was sou jy onthou dit het so geklink: “1. Ons is lankal nie meer net hier om Pretoria te verdedig as Pretoria nie. 2. Ons is hier omdat hierdie die enigste plek is waar ons die verlede en toekoms kan saambind. Shell House gaan dit nie vir ons doen nie en lyk my Thynhuis ook nie. 3. Ons is hier omdat dit ‘n eer is om te behoort. 4. Ons is hier as die enigste stam wat amper meer as die helfte van sy mense opgeoffer het om hier te mag wees. Wys my een ander volk in Suid Afrika wat dit kan sê. (Jy kan nie die Boerevolk begryp voor jy dit verstaan nie.)
5. Ons is hier om vir Julius Malema te vra: dink jy jy kan ons bangpraat met ons eie geld, jou huigelaar? Ek en jy (die publiek) subsidieer die ANC om ons af te dreig. Ek hoop nie jy val daarvoor nie. Kom ons vat agt sekondes en lag hom uit. Een, twee, drie...(ek sien 10 000 kleintongetjies voor my wiggel en sangers kom loer watter grap so goed gewerk het.) 6. Ek is nie hier omdat ek kwaad is vir ander volke nie, ek is hier omdat ek trots is op hierdie een. Moet asseblief nie immigreer voor my nie. Dankie dat jy gekom het.” *
My opinies oor Joost, Jurie en Robbie is eenvoudig. Laat reg geskied, maar ek bly aan glanspersone se kant wat vir gewone oortredinge disproporsionele strawwe moet verduur. My enigste aanval op Joost kan opgesom word in die waarskuwing dat hy liefs nie die Christenkaart moes speel tensy hy vrekseker was van sy onskuld nie. Ek staan daarby. Verder verdedig ek geen oortredinge nie, maar staan by hom omdat ek verstaan waardeur hulle moet swoeg om op soveel emosionele vlakke kop bo water te hou. Moenie hulle hel onderskat soos julle myne onderskat het nie. Tim du Plessis wonder of Joost hulle êrens ‘n “blaaskans” gegun gaan word. Dit doen hy net nadat hy almal gerusstel dat die media niks doen behalwe reflekteer nie. As dit nie die naïefste stukke ironiese drek is wat ek in jare uit sy pen kon lees nie. Voel jy al skuldig Tim? Nie so gedink nie. * Net soos dit my verbaas dat agente als konfidensieel oor hul kunstenaars in biografieë uitblaker, wonder ek waar en hoe Mike Bolhuis na dese ooit weer kliënte se vertroue gaan wen, nadat hy sy korrespondensie met Amor en Joost publiek gemaak het. *
Ek geniet die Voëlvryers se gevry na erkenning. Ek was daar toe dit begin het. Ek is eintlik verbaas enigiemand wil nog die eer hê, gegewe dat hul liberale temas hulle almal reeds in die gat kom byt het en dat hulle eintlik niks meer nagelaat het as stowwerige, toondowe middeljariges met kitare en punk ondertone nie. Die rockbeweging, waarna hulle vry, het ons ontwyk en uiteindelik was almal vanaf Kerkorrel tot Kombuis se grootste treffers sommer gewone smartlapballades. Ek dink tog Dagga Dirk Uys is deur die groter ego’s afgeskeep en as jy Koos Kombuis ken soos ek, sal jy vir Uys glo. Andre Le Toit du Toit Kombuis is ‘n media maaksel. Hy fake sy eie legende omdat sy redakteurs dit koop. Die Afrikaanse publiek is nie in sy wentelbaan nie want selfs hulle kan ‘n dweper myle ver sien. Die disproporsionele aandag wat hy in die Afrikaanse media geniet vertolk geensins in verkope of ondersteuning nie. Het nog nooit. Sy boeke, die hoofstukke in sy lewe wat hy kon onthou, was almal vervelig. Wie skryf in elk geval soveel biografieë oor homself? Enigiemand wat geloofs en politieke kwessies met die ewig ontwykende parodie nader, is bang vir die regte debat. Hy dink hy’s postmodern maar hy is dadaïsties. Moet dit nie opsoek nie, want Google gaan nie so ver terug nie. Op vyftig vind sulke mense uit hulle was eintlik net Eugene Marais wannabees, toe hulle dog hulle is Bob Dylan. En enige gefokte individu wat ander se privaat lewens vanuit die morele hoë grond takel en vriende skop as hulle op die grond is, is ‘n tos in my boek. Sorry Koos, ek’s afgespeen. En nee, ek dra nie ‘n pruik nie. Ek het 'n voorstel om jou sanglopbaan te red. Loop sing 'n duet met Ras Dumisani. *
Daar is ‘n wêreldwye kompetisie vir minderheidstale genaamd LIET INTERNATIONAL. Kyk hier na die Sami wenners genaamd SomBy. Sami word gepraat deur Laplanders bo in die Noord Skandinawiese terreine. Hulle boer met takbokke en het hulle eie Sami-parlement in Noorweë. Ek voel ‘n vreemde solidariteit. Oor Afrikaans, oor takbokke en oor die kans dat dit moontlik Vader Krismis se moedertaal kan wees. * Dit is geen geheim dat my Godsbeskouing glad nie deur my Skrifbeskouing domineer word nie. Selfs al was daar geen Bybels nie, sou ek in God glo en sou ek die godheid in ander soek en raaksien. Jesus is hieroor ‘n groter geestelike bonus as wat mense kan waardeer. Maar Richard Dawkins se nuwe boek (the Greatest Show On Earth) is ‘n plettervat op elke kreasionis wat die Bybel gebruik om dom te bly oor God se asemrowende skepping. Dawkins kan blameer word vir baie aweregse (en vervelige) teologie, maar sy mikroskopiese liefde vir die Skepping kan nie in twyfel getrek word nie. Ek is nog nie eers halfpad deur die boek nie, en elke vraag wat ek hom mee sou pepper, is reeds beantwoord in dood eenvoudige taal. Ek verstaan selfs chemie vir die eerste keer vandat ek moeiteloos 32% daarvoor gekry het op skool. Nou moet ek nog net kleinkry dat haaie nader nefies is aan ons as aan tuna. En Bulle? *
Ek lees ook tendensguru Dion Chang se boek oor Suid Afrikaanse politiek en ekonomie (The State We’re In) en ‘n handleiding oor die aandelemark. Die boek se naam is It’s Not How Smart You Must Be But How Rich You Can Be (Vader & Hulschbos). Okei. * Dankie vir ‘n helse lekker week in Good Hope Privaat Wildsplaas duskant Barkley-Wes, die Voortrekkermonument en Hillfox (jammer oor die reën). Dankie vir die duisende wat opgeruk het en die koue Black Label wat iemand van agter oor die koppe aangestuur het. Hierdie Boereding, werk al hoe meer vir my, maar my nuutgevonde drank probleem het alles met die Springbok loesing te doen. Ons verteenwoordig die Suide se superrugby en ons is die wereldkampioene...dis Ras se skuld. Of wat seg ek nou... * Ek het ‘n spesiale Kersfees inskrywing wat wag. Tot dan.
|