Steve on Twitter
Following:
Loading...
B&H Photo Video PC Audio
|
|
Monday, 01 June 2009 09:02 |
|
Loftus kry lewe van sy eie. Die beton kreun, die gras verlei soos ‘n winkende minnares. Die Blou skakeer tot doer bo die nag in, waar ‘n verlore Cessna sirkuleer vir die naas perfekte foto uit die lug. Weet nie of Loftus die Tshwane Metro Council bietjie loadshedding skuld nie, maar die klank en ligte verdwyn sporadies tot 2 minute voor die wedstryd. Ek en Kurt lig ons skouers. Ons gaan nie kan sing nie, maar dit is ook nie hoekom ons daar was nie. Ons kom kyk of die gerug waar is dat die Kiwi’s die beste rugbyklubs in die wêreld bestuur. Maar ek kry die idee die soet wysie in die lug het beker kom haal. 61-17 is miskien meer as wat ons gevra het, maar toe Wynand Olivier daai de Malmanche se wang teen die Loftusgras afvee, toe weet ek my span is moerig. Mils Muliaina se manne het vir 80 minute gekeer soos Chinese polisie in Tibet. Die veterane het die drieë gedruk en toe Victor deurbars weet ons die Kaptein het sy seile gespan. Morné rond deesdae alles af met koek en tee en stap ook uit hierdie toernooi as die grootste puntemasjien. Sy Springbok posisie lyk verseker. Ek is bly hieroor. Pedri word die Bloubul met wat die bloutrui die meeste oor sy kop getrek het (98 keer?) en Victor se manne vat die strafste rugby kampioenskap vir die tweede keer in drie jaar. Sondag drink ek sommer weer Brandewyn in my nostalgie oor Saterdag. Kurt bel en sê ons moet Gerrie en Zak se name gat maak op Jukebox. Ek stem in. EN ons het. Soete wraak.
 Moet ons windgat wees? Allamintig, ja. Hoekom? Want ons ken van verloor ook. En dis dan bietjie seerder vir ons as vir meer nederige spanne (wat jy waar kry?), maar die kasboek klop êrens eendag. Moet ons kommin wees en die opposisie boe? Allamintig, ja. Hoekom? Want maak nie saak hoe beskaafd jy dink jy is nie, hulle gaan jóú manne boe enige plek in die wêreld. En waarvoor leef jy as jy nie tuisveldvoordeel optimaal benut nie. Dink jy die Waikato Chiefs gaan Die Bloubullied speel gedurende ons besoeke daar? NOT. Daarom speel ons hom dood en dit pas my veral as die deuntjie in hulle koppe spook lank na die harsingskudding sak.
Gister se titaniese oorwinning kondig die Curriebeker aan. Dit gaan ‘n slagting wees. Maar gister se oorwinning is wêreldwyd gemonitor. En die internasionale spanne, die Britse Leeus veral, neem notisie en ek reken hulle sit pen regop in hulle hotelkamers vanaand. Daar is nie teenvoeter vir ‘n gameplan as die gameplan pure hart en mannemoed is nie. Goed gedaan Victor en jou manne.
|
|