|
Beautiful Noise Reunion open onder luide ontvangs in die Rosestad. My vrese en vrae gaan dit vooraf, sal dit werk, sal dit weer werk en sal die veranderings en ander liedjies werk? Helaas, dit doen. Maar die Bloemfonteiners is altyd bok vir ‘n paartie. Ek plaas elders op hierdie blad ‘n paar snitte van die CD SOLITARY MAN, wat eersdaags verskyn. Elke belangrike Neil Diamond lied is daarop (Sweet Caroline, I am I Said) plus 10 ander wat voorheen versuim is. Cherry Cherry, He Aint Heavy He’s my Brother, Play Me, Morningside, Canta Libre, Don’t Turn Around, Girl, You’ll Be A Woman Soon, ens. Dit maak SOLITARY MAN ‘n dubbel CD, met die verlengde Pampoen as bonussnit. Die toer sal na in 2011 stop en selfs die Sokkerwêreldbeker moet trotseer. Maar Beautiful Noise het al op vier kontinente gewerk en sal volgende jaar ook.
Dankie Andries, Lourens en Kirsten. Dit is ‘n voorreg om hierdie groep vir ‘n derde jaar te mag gebruik. Julle rock in enige genre. Dit wil gedoen wees. En julle lyk te fraai op die toerplakkaat. Volgende keer vertel ek julle wie is Kobus Coetzee werklik, hoe hard ek en Sune lag vir mense wat ons iets probeer vertel, wat doen Sebastian en Benjamin deesdae, en waar van my artikels binnekort verskyn. Okei, Sports Illustrated, Passi en Keur. Philip de Bruin (Beeld) plaas gister een sin uit Natasha se boek soos dit in Huisgenoot verskyn - damn, ek word beleer van alle kante af. Een sin uit drieduisend, wat so lees: “Dis dan wanneer die vuishou op die maag of die vreemde lipstiffie aan jou sielsgenoot se onderbroeke meer aanvaarbaar raak...” Ek val agteroor. Is dit wat daar staan? Ek sms my vrou en vra of sy daarmee bedoel dat ek ooit gewelddadig teenoor haar was. Nee, sê sy. Sy weet nie waarvan hulle praat nie. Wel, dis hoe ek dit verstaan en dit is hoe duisende ander dit sal lees. My vrou is min getraak want dit is alles goeie publisiteit vir haar boek. Dis duidelik hoekom Esmare Weidemond so iets sou plaas, maar dat Philip de Bruin dit sou uitsonder gaan my verstand te bowe. Maar in hierdie resies is my verstand lankal ver agtergelaat. Anyway, menere, as daar lipstiffie op jou onderbroek is, doen julle dit verkeerd. Steve
|