’n Derde huldeblyk aan die legendes / Toeka 3 is hier! / Nog ’n suksesverhaal
Steve Hofmeyr is nie net ’n groot naam hier in Suid-Afrika nie, maar ook regoor die wêreld… en dít met goeie rede. Die afgelope drie dekades, het hy nie net sukses as sanger bereik nie, maar ook as liedjieskrywer, skrywer, vervaardiger, aanbieder, aktivis en akteur. Sy treffers word oor die radio gehoor, sy CD’s en DVD’s het oor die jare topverkope bereik en daar is selde ’n vertoning wat nie uitverkoop is nie. Hy is ’n legende en sy diep stem is sinoniem met Afrikaanse musiek.
Steve was ook nog altyd ’n voorstaander daarvan om die groot legendes uit die verlede (en hede) te vereer en dit is juis wat aanvanklik sy multiplatinumbekroonde Toeka-reeks die lig laat sien het. Sy splinternuwe album, Toeka 3, is pas bekend gestel en gaan beslis voortbou op dié suksesverhaal.
Hierdie hoendervleismooi juweel spog met sewentien bestaande treffers, wat op Steve se uitsonderlike manier verwerk is, asook twee splinternuwe oorspronklike werke wat nie teleurstel nie. Elkeen van die liedjies op die album is gelaai met nostalgie en raak die luisteraar se siel, soos net dié Afrikaanse meester weet om te doen.
Die eerste enkelsnit wat vrygestel is, Sit die ligte aan, is reeds baie gewild en bevestig weereens Hofmeyr se uitsonderlike skryf- en sangtalent. ’n Aansteeklike wysie en inspirerende lirieke is maar net van die bestanddele wat van hierdie liedjie ’n blywende treffer gaan maak.
Die musiek wat op Toeka 3 verskyn is noukeurig uitgesoek en saamgestel, en is ’n kombinasie van Steve se eie gunstelinge asook liedjies wat deur die publiek versoek is. Meer as sewentig gewilde opsies is afgeskaal na sewentien treffers wat destyds deur kunstenaars soos Fanie de Jager (Ek kyk graag so diep in jou oë), Cindy Alter (Substitute), Herbie&Spence (My Enigste Een), en Anton Goosen (Kruidjie-Roer-My-Nie) bekend gemaak is-die perfekte samevatting van die grootste Afrikaanse en Engelse suksesse uit die verlede.
Toeka 3 is ’n kombinasie van opgewekte pret (Hak hom Blokkies), nostalgiese kulturele erfenis (Die Stem), en geluksalige oorspronklikheid. “Die album sluit nie net my ouer helde in nie, maar ook my tydgenote,” vertel Steve. “Van Danie Botha se Wie kan dit verstaan? en Coenie de Villiers se Daar’s ’n plek, reg deur tot by my allergunsteling, Live On deur Pierre de Charmoy, wat my loopbaan definieer het. Nog ’n groot hoogtepunt was om deur die liedjies te sif en te oorweeg watter om te kies uit so ’n magdom moontlikhede.”
Die derde album in die Toeka–franchise sal aan ’n handjievol van Steve se medewerkers hul regmatig plek in die heldesaal besorg en ons sien uit na nog baie albums in hierdie reeks.
Volg hom op:
Twitter – @steve_hofmeyr,
Facebook – www.facebook.com/steve.hofmeyr; en
hou sy webwerf en blog, www.stevehofmeyr.co.za, dop vir toerbesonderhede en nuus.
VIR MEER INLIGTING, KONTAK ASSEBLIEF VIR
Christien de Klerk: Christien.DeKlerk@umusic.com