Steve Hofmeyr is al vir dekades lank hard aan die werk – nie net as ’n gewilde vermaaklikheidster nie, maar ook as ’n persoonlikheid by wie mense op ’n emosionele, kulturele en patriotiese vlak aanklank vind.
Sy derde Toeka-huldeblyk is pas vrygestel en hy het ook onlangs sy 9de boek, STEVE50HOFMEYR, voltooi. Met hoofstukke soos Kaalvoetdae, Deurbraakjare, Celebs & Selfies, In aksie, Erfenis, Films & TV, Oppipad en Oppiplanke, vertel die treffersanger sy storie met behulp van foto’s wat deur verskillende mense geneem is – van fotograwe, sy aanhangers en span, tot hy self.
Steve het al baie hoogtepunte in sy loopbaan bereik, van albums met multiplatinumverkope en topverkoperboeke, tot suksesvolle televisiereekse, geselsprogramme, en uitverkoopte konserte regoor die wêreld.
Naas ’n liedjieboek, met meer as 200 oorspronklike (opgeneemde) liedjies, kon Hofmeyr reg deur sy ryk loopbaan kwalteitwerk lewer, verhoudings bou en kritici verkeerd bewys.
As akteur, suksesvolle skrywer, televisiepersoonlikheid en dikwels omstrede sosialemedia-kommentator, het Hofmeyr nog altyd intens daarop gefokus om stories te vertel deur musiek, wat aanklank vind by kultuurbewustes asook by diegene wat bloot die ritme van drie en ’n half minute se pret wil voel. “Ons fragmenteer die oomblik,” sê hy. “My liedjies wys iets van die dinamiek van Afrikaans, en die lekkerste deel van kultuur is dat dit nie gereguleer kan word nie.”
Steve het oor die jare ’n musikale monument vir Suid Afrikaanse nostalgie en Afrikaanse vermaak geword en ry steeds die golf van daardie sukses. “Ek het ’n bietjie van my waagmoed om te eksperimenteer afgeskud,” vertel hy egter. “Maar ek poog om steeds my kant te bring by liriese inhoud en lekker, soliede konserte. Dis lank nie meer iets wat ek doen nie, maar iets wat ek is!”
Danksy jare se ondervinding in die musiek- en vermaaklikheidsbedryf, is sy stem vandag groter en beter as ooit. “Ek kan letterlik hoër note bykom,” sê hy oor die omvang van sy stem. “Ek het as ’n kroegsanger begin, maar geleer om myself darem tegnies te verbeter. En as ’n mens onder begin het, is daar immers nog baie geleenthede om mense te beïndruk,” grap hy.
Alhoewel Steve ongetwyfeld ’n begaafde outeur, akteur en musikant is, het sy popstatus al enkele terugslae beleef – was daar geen einde aan die teenvoeter van prestasie, inspirasie en loopbaanvieringe nie. “Ek word omgekrap deur realiteite in politiek en die samelewing,” erken hy. “Ek sing nie genoeg hieroor nie. Musikaal gesproke is daar egter vandag ’n magdom uitstekende Afrikaanse kunstenaars – wat almal iets te sê het – en dís ’n wonderlike ding. My doel was altyd om die Afrikaner/Boer ‘n deelnemer te maak in die vieringe in die wondere van Suid Afrikanerskap, maar vas te skop teen dit wat ons kulturele bestaan kan uitsmoor. Ek’s deel van ’n minderheidskultuur. Paranoia is ons reg. Ek’s ’n kunstenaar wat uit mense sing, nie vir hulle nie. Ek sit die gevoelens en gedagtes van die meeste mense in woorde om. Ek’s trots op my liberale wortels, hoewel ek as kunstenaar en kultuurdier behoudend is,” sê hy met ’n gemaklike glimlag.
Vandag het Hofmeyr die reg verdien om die golf te ry wat hy help skep het. “Ek’s dol oor die diversiteit wat my lewe my bied,” bevestig hy. “Ek word jaarliks rolprentrolle aangebied, waarvan ek soms aanvaar. Elke vier jaar waag ek weer ‘n musiekblyspel, solank my knieë nog hou. Ek hou daarvan om te skryf en my helde dop te hou soos wat hulle ouer word. Want daar was altyd iemand voor jou, wat beter was, wat jou iets sal leer.”
Daar is ook ’n ander kant aan Steve, een wat oor meer as net pop, rock en folkmusiek gaan. “Ek is dankbaar vir daardie nuwe spasie. Dis waarvoor die boeke daar is. Musiek, in vergelyking daarmee, volg ’n duidelike pad sonder afleidings na die goedvoel-vermaak waarvoor dit bedoel is.” Musiek is Steve se veilige plek. “Ek weet dit, daarom misbruik ek die platform meesal nie. Maar skryf is taaier, neem meer tyd in beslag. Ek werk tans aan my negende boek.”
“Daar is ’n vlak van integriteit waarna ek altyd, selfs as popkunstenaar, gestreef het,” gesels hy verder, “en ek wil graag glo dat ek daardie balans volhou. Dit was egter nooit my oorspronklike voorneme nie, maar uit die genade van onse muses het dinge so uitgewerk. Ek was nog altyd te ontspanne as kunstenaar om te geforseerd te wil wees.”
“Vandag staan ek sterk en doen ek met elke verhoogoptrede die besigheid van vertolking, niks meer en niks minder,” sê Hofmeyr. “Ek’s steeds mal daaroor. Daar is dus iets te sê vir ouer word. Vandag speel ek vir verskillende gehore, wat almal vir verskillende redes daar is. En my musikale lakmoes sê vir my dat mense daarvan hou. As dit stop, sal ek ook.”
Steve het sedert 1987 al heelwat gereis, opnames in Los Angeles gemaak en vir ’n rukkie in België gewoon om opnames en optredes saam met Dana Winner te doen. So tussen die skryfwerk en opnames (met onder andere Patrizio Buanne), plaaslike en wêreldtoere deur, is 27 uitmuntende albums uitgereik, waarvan altesaam meer as tweemiljoen kopieë verkoop is. Sewe rolprente en sewe musiek-DVD’s later, bestaan daar geen twyfel dat Hofmeyr werk en die kuns van ‘n lewe-in-treffers vervolmaak het.
In daardie tyd het hy sy formele opleiding as akteur op televisieskerms en die silwerskerm met sy aanhangers gedeel. Hy het van die mees onweerstaanbare musiek opgeneem en sewe topverkoperboeke geskryf, waarvan vier volbloed-romans is. STEVE50HOFMEYR, wat onlangs voltooi is, is ’n foto-biografie wat ’n kant van hom wys wat sy aanhangers nog nooit gesien het nie. “Ek het ’n vermoë om mense te kry om saam te speel, op te staan, ken te lig, saam te praat en te baklei, sonder om ooit saam te stem,” erken Hofmeyr. “Ek stuur gehore na ’n ruimte waar hulle veilig voel. Eintlik voel ek soos Elvis toe hy op ‘n keer gesê het: ‘Ek weet nie wat dit is nie, maar dit werk’. Die ou vuurvreter Friedrich Nietzsche het ook gesê: ‘Ek luister na musiek vir my eie gemak.’ Ek dink ek kan heeltemal met daardie manier van luister saamleef.”
Volgens hom was 2008 tot 2014, tot op datum, sy produktiefste jare. In hierdie tyd moes hy weer op sy voete kom na ’n egskeiding, siekte en selfs publieke oordeel en spot. Maar hy het as ’n oorwinnaar, vol inspirasie, net groter hoogtes bereik met elke nuwe projek wat hy aangepak het. “2008 was ’n keerpunt,” bevestig hy. “Dit was ’n soort Rubicon – niks was weer dieselfde daarna nie. Daar was ’n duidelike transformasie en ek kon dit voel. Ek is nou meer in pas met dit wat rondom ons afspeel, en ek doen verslag oor al dié dinge met behulp van die mediums wat tot my beskikking is.”
In 2011 het Steve letterlik sy stem verloor en dit het nie net vanself weer teruggekom nie – ’n ontnugtering wat hom weereens laat besin het oor sy werk en hoe hy dit doen. “Ek het opgepak en ’n maand lank in Europa gaan toer, waar ek nie ’n woord gesê het nie,” onthou hy. “Gelukkig het ek herstel en daarmee saam het die besef gekom dat dit uiters belangrik is, om die tempo waarteen ek werk, te beheer as ek onbepaald wil aanhou met wat ek doen en wíl doen.”
Buiten vir “plantkunde en kosmaak”, het hy sy hand al aan alles gewaag en in elke dissipline ’n gehoor gevind. “Ek het drama studeer en alles wat daaruit gespruit het, het my lewe geword,” vertel hy. “Teater, televisie, skryf, rolprente en musiek – dit is nou alles deel van my. Die boek-ding was waarskynlik onvermydelik. Hoewel dit nie my hooffokus is nie, kon ek dit gelukkig stadig benader. Ek vind ek moet skryf, en soos elke ander aspek van my loopbaan, vind die een baat by die ander.”
“Ek het gelukkig vroeg in my loopbaan gesien dat alles nie bloot rock ’n roll is nie maar ‘n dissipline. Ek het ontsag vir hierdie ding wat ons doen. Ek is verslaaf daaraan, en dít is moontlik hoekom ek nooit moeg raak vir enige aspek van dit waarmee ek geseën is nie.”
Steve Hofmeyr is meer as net ’n musikale instelling – hy is ’n handelsmerk met 26 jaar se momentum om hom te dra om nog meer sukses in die volgende 50 jaar van sy lewe te bereik.
Volg hom op:
Twitter – @steve_hofmeyr,
Facebook – www.facebook.com/steve.hofmeyr; en
hou webbladblog, www.stevehofmeyr.co.za, dop vir toerbesonderhede en nuus.
VIR MEER INLIGTING, KONTAK ASSEBLIEF VIR
Christien de Klerk: Christien.DeKlerk@umusic.com
Recent Comments